Gaan na inhoud

Paraguaanse nasionale rugbyspan

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Paraguay
Unie Paraguaanse Rugbyunie (URP)
Bynaam(e) Los Yacarés (“die kaaimanne”)
Embleem ’n Kaaiman
Stadion Estadio Héroes de Curupayty, Luque
Kapasiteit 3 000
Afrigter(s) Vlag van Argentinië Ricardo Le Fort (sedert 2023)
Kaptein(s) Mariano Garcete
Spankleure
Alt. kleure

Statistiek
Meeste toetse Gonzalo Bareiro (35)[1]
Meeste toetspunte Sergio Alvarenga (128)[2]
Meeste drieë Rodrigo Llamosas (11)[3]
Eerste internasionale wedstryd
Vlag van Paraguay Paraguay 3–21 Brasilië Vlag van Brasilië
(Asunción, Paraguay; 5 September 1970)
Grootste oorwinning
Vlag van Paraguay Paraguay 109–0 Bolivië Vlag van Bolivië
(Asunción, Paraguay; 20 September 2019)
Grootste nederlaag
Vlag van Argentinië Argentinië 152–0 Paraguay Vlag van Paraguay
(Mendoza, Argentinië; 1 Mei 2002)
Uniewebwerf
www.urp.org.py

Die Paraguaanse nasionale rugbyspan (Spaans: Selección de rugby de Paraguay) is die nasionale rugbyspan wat Paraguay in internasionale wedstryde (toetswedstryde) verteenwoordig. Hulle dra die bynaam Los Yacarés (Spaans vir: “die kaaimanne”), ontleen aan die Paraguaanse kaaiman (Caiman yacare). Rugby word in Paraguay geadministreer deur die Paraguaanse Rugbyunie (Unión de Rugby del Paraguay, URP) wat in 1971 gestig is. Paraguay word as die sewende beste rugbyspan in die Amerikas beskou (ná Argentinië, die Verenigde State, Kanada, Uruguay, Chili en Brasilië) en deur Wêreldrugby as ’n vlak drie-span erken. Die Paraguaanse rugbyspan is tans (Julie 2026) 31ste op Wêreldrugby se wêreldranglys gelys.[4]

Paraguay het in 1970 sy eerste toetswedstryd teen Brasilië gespeel. Die span het tydens die Suid-Amerikaanse Rugbykampioenskap nog geen titel ingepalm nie, drie keer tweede en drie keer in die derde plek geëindig. Paraguay kon tot dusver nog nie vir ’n rugbywêreldbekertoernooi kwalifiseer nie. Paraguay speel tradisioneel in gestreepte rooi en wit truie, donkerblou broeke en rooi sokkies – wat aan die kleure van die vlag van Paraguay ontleen is.

Beheerliggaam

[wysig | wysig bron]

Die beheerliggaam vir rugby in Paraguay is die Paraguaanse Rugbyunie (Spaans: Unión de Rugby del Paraguay, URP). Die Paraguaanse Rugbyunie is in 1971 gestig en het in 1989 ’n volle lid van die Internasionale Rugbyvoetbalraad (IRVR; nou Wêreldrugby) geword.[5] Daarbenewens was die Paraguaanse beheerliggaam in 1988 ’n stigterslid van CONSUR (Confederación Sudamericana de Rugby, “Suid-Amerikaanse Rugbykonfederasie”; nou Suid-Amerika Rugby, SAR).[6]

Die hoogste rugbyliga in die land is die Campeonato Paraguayo de Rugby wat in 1971 gestig is en tans tussen nege spanne beslis word. In die verlede was die meeste spelers van die Paraguaanse nasionale span uit dié amateurliga afkomstig. Sedert 2020 draf die meeste Paraguaanse spelers egter uit vir die keurspan Yacaré wat aan die professionele Superrugby Amerikas deelneem. Hieraan neem ook spanne uit Argentinië, Brasilië, Chili en Uruguay deel.[7] Van die ander spelers is veral op professionele vlak in Europa aktief.

Naas die amptelike nasionale span roep die Paraguaanse Rugbyunie ook ander keurspanne byeen. Net soos ander rugbylande beskik Paraguay oor ’n o/20-nasionale span wat aan die Wêreldrugby o/20-trofee deelneem.[8] Die Paraguay Sevens is die Paraguaanse sewesrugbyspan en hulle neem aan internasionale toernooie soos Wêreldrugby se Sewesreeks, Sewesrugbywêreldbeker en Olimpiese Somerspele deel. Kinders en jongmense word reeds op skool aan rugby bekend gestel en na gelang van hul belangstelling en talent begin hulle met hul afrigting.

Geskiedenis

[wysig | wysig bron]

Invoering en vestiging van rugby

[wysig | wysig bron]

In die buurlande Argentinië en Brasilië het in die laat 19de eeu veral Britse emigrante rugby gespeel. Van daar is die spel na Paraguay geneem. In die aan natuurlike hulpbronne ryke land het veral Argentyne, Britte en Franse in die mynbou gewerk; hulle het rugby in Paraguay help vestig.[9] In die 1930’s is die eerste gedokumenteerde rugbywedstryd in Paraguay tussen spelers van Cerro Porteño en Club Olimpia (dié land se twee grootste sokkerklubs) beslis. Daarna het die spel egter stadigaan ontwikkel. Eers in die laat 1960’s is die land se eerste amptelike rugbyklub, die Asunción Rugbyklub, deur twee Britte, twee Argentyne, een Nederlander en een Nieu-Seelander gestig.[10] Hulle het nieamptelike wedstryde in die hoofstad Asunción se Botaniese Tuin gespeel en vir nog wedstryde na Argentinië gereis. In 1970 is met die Universiteitsklub van Asunción (CURDA) ’n tweede rugbyklub in Asunción gestig. In die 1970’s en 1980’s is nog rugbyklubs gestig. Sedertdien is rugby in Paraguay veral deur afstammelinge van die Europese immigrante gespeel en ook daarna is dit veral deur die hoërklas beoefen.[11]

Eerste Suid-Amerikaanse Rugbykampioenskappe

[wysig | wysig bron]

In 1970 het die Paraguane vir hul eerste toetswedstryd in Asunción Brasilië verwelkom. Een jaar later is die beheerliggaam Paraguaanse Rugbyunie (Spaans: Unión de Rugby del Paraguay, URP) gestig en in dieselfde jaar is die nasionale kampioenskap Campeonato Paraguayo de Rugby vir die eerste keer beslis.[12] Eweneens het hulle vir die eerste keer aan die vastelandse Suid-Amerikaanse Rugbykampioenskap deelgeneem. Hulle het egter swak nederlae gely teen Uruguay, Chili en Argentinië, slegs teen Brasilië was die nederlaag minder duidelik.[13] Tydens die Suid-Amerikaanse Rugbykampioenskappe in 1973, 1975 en 1979 is die span telkens deur Argentinië, Brasilië, Chili en Uruguay geklop.[14][15][16] Daarteenoor het Paraguay in 1977 sy eerste oorwinning oor Brasilië aangeteken en die vierde plek behaal.[17]

Nadat die buurland Argentinië ’n verbod op alle sportiewe ontmoetings met Suid-Afrika geplaas het, is in 1980 die “skaduspan” Sudamérica XV (ook Jaguares Sudamericanos genoem) gestig. Hoewel die meeste van die spelers Argentyne was, het ook ’n aantal Paraguane vir die span uitgedraf. Die altesaam vyf betrokke beheerliggame het die span nie amptelik erken nie, maar in die geheim geduld. In 1980 het die Springbokke se eerste Suid-Amerikaanse toer in Asunción met ’n nieamptelike toetswedstryd teen die Paraguane afgeskop, wat die Suid-Afrikaners met 84–6 gewen het; vir die gashere was dit die eerste wedstryd teen ’n nie-Suid-Amerikaanse span.[18] Gedurende die volgende vier jaar het die Sudamérica XV agt keer teen die Suid-Afrikaners gespeel, maar hulle kon slegs een wedstryd wen (op 3 April 1982 in Bloemfontein).[19] Argentinië, die onoorwonne wenner van al die vorige vastelandse rugbykampioenskappe, het in 1981 nie aan die Suid-Amerikaanse Rugbykampioenskap deelgeneem nie, waardeur die ander deelnemers die kans gehad het om dié toernooi vir die eerste keer ooit te wen. Die Paraguane het egter swak nederlae gely teen beide Uruguay en Chili, terwyl hulle Brasilië kon klop en sodoende die laaste plek vermy het.[20]

Twee jaar later het Argentinië weer aan die toernooi deelgeneem en Paraguay kon slegs die vierde plek ná Argentinië, Uruguay en Chili beklee; in 1985 en 1987 het hulle dieselfde uitslag behaal.[21][22][23] In 1985 het die Paraguane met ’n 9–9-gelykop teen Uruguay hul beste uitslag in dié tyd teen dié teenstander aangeteken. In dieselfde jaar het die Internasionale Rugbyvoetbalraad (IRVR; nou Wêreldrugby), wat destyds baie eksklusief was en slegs agt lede gehad het, op die invoering van die rugbywêreldbekertoernooi besluit. Vir die eerste Rugbywêreldbeker 1987 het die IRVR nege spanne vir deelname genooi, maar Paraguay het geen uitnodiging ontvang nie.[24]

Van die 1980’s af is die Paraguaanse rugby nie net sterk deur die buurland Argentinië beïnvloed nie, maar ook deur Frankryk, aangesien die Franse Rugbyfederasie met Jean-Pierre Juanchich ’n voltydse hoofafrigter vir die nasionale span beskikbaar gestel het.[9] Juanchich was vroeër vir die Chileense nasionale span verantwoordelik en het daarna die leisels van beide Paraguay se junior- en seniorspan oorgeneem.[11] In 1988 het die Paraguane met Frankryk tydens hulle Suid-Amerikaanse toer die eerste Europese span vir ’n nieamptelike toetswedstryd gehuisves en hulle is met 106–12 verslaan.[25] In dieselfde jaar is hulle deur Suidwes-Afrika (nou Namibië) met 0–110 verneder; dié wedstryd is ook nie as ’n toetswedstryd geag nie.[26] In Oktober 1988 was die URP in Asunción een van die vastelandse beheerliggaam CONSUR (Confederación Sudamericana de Rugby, “Suid-Amerikaanse Rugbykonfederasie”; nou Suid-Amerika Rugby, SAR) se stigterslede; die ander was Argentinië, Brasilië, Chili en Uruguay.[6] In April 1989 het dit ’n volle lid van die Internasionale Rugbyvoetbalraad geword.[5] Ná die Brasiliane se terugkeer na die toernooi het die Paraguane die Suid-Amerikaanse Rugbykampioenskap 1989 slegs in die vyfde plek afgesluit.[27] Aan die Rugbywêreldbeker 1991-kwalifisering het Paraguay nie deelgeneem nie.[28]

Aan die begin van die 1990’s het Paraguay beter vertoon in die vastelandse kampioenskap. Nadat die span in 1991 die vierde plek beklee het, het hulle in 1993 ná hulle eerste oorwinning oor Chili ooit die derde plek ná Argentinië en Uruguay behaal.[29][30] Die laasgenoemde toernooi het gelyktydig as eerste kwalifiseringsrondte vir die Rugbywêreldbeker 1995 gedien. Die Paraguane het met hul uitslag egter nie die volgende rondte gehaal nie.[31]

In 1995 het hulle weer die derde plek beklee.[32] Die Suid-Amerikaanse Rugbykampioenskappe in 1997 en 1998 het met die vierde plek teleurstellend vir Paraguay verloop.[33][34] Tydens die tussen-in besliste Rugbywêreldbeker 1999-kwalifisering het Paraguay nederlae teen beide Chili en Uruguay gely.[35]

In die nuwe millennium

[wysig | wysig bron]

Van 2000 af is die Suid-Amerikaanse Rugbykampioenskap jaarliks beslis, maar die magsbalans op die vasteland het vir eers nie verander nie. Argentinië, Uruguay en Chili was onoorwinbare teenstanders, slegs teen Brasilië was die span suksesvol.[36] Enkele dae voor die afskop van die Suid-Amerikaanse Rugbykampioenskap 2000 het die beheerliggaam sy nasionale span onttrek en aangevoer dat hulle nie genoegsaam mededingend sou wees nie.[37] Een jaar later het die Paraguane swak nederlae gely teen Uruguay, Chile en die Argentynse reserwespan.[38] Tydens die Suid-Amerikaanse Rugbykampioenskap 2002 het die Yacarés hul ergste nederlaag in dié tyd gely: 0–152 teen Argentinië.[39] Tydens die Rugbywêreldbeker 2003-kwalifisering het die Paraguane Brasilië geklop, maar teen Chili verloor, waarmee hulle die volgende rondte misgeloop het.[40]

Voor die afskop van die Suid-Amerikaanse Rugbykampioenskap 2003 het Paraguay ’n kwalifiserende wedstryd teen Brasilië gewen, waarvolgens hulle in afdeling A kon aanbly. Nietemin is hulle ná nederlae teen al drie die deelnemers tydens die kampioenskap na afdeling B gerelegeer.[41] Die Paraguane het dié afdeling in 2004 en 2005 in die eerste plek afgesluit.[42][43] Die Suid-Amerikaanse Rugbykampioenskap 2005 was deels gelyktydig die tweede Rugbywêreldbeker 2007-kwalifiseringsrondte, waar Paraguay Brasilië geklop het, maar deur Chili verslaan is.[44]

Daarna het hulle eers in 2008 weer aan die vastelandse kampioenskap deelgeneem en in die afdeling B tweede ná Brasilië geëindig, waarmee die span na die hoogste vlak van die Suid-Amerikaanse Rugbykampioenskap gepromoveer is.[45] Die Suid-Amerikaanse Rugbykampioenskap 2008 het ook gedien as die eerste Rugbywêreldbeker 2011-kwalifiseringsrondte, maar slegs Brasilië het met sy eerste groepplek die volgende rondte gehaal.[46]

Die Suid-Amerikaanse Rugbykampioenskappe in 2009, 2010 en 2011 het Paraguay telkens in die derde plek ná Uruguay, Chili en Brasilië afgesluit.[47][48][49] Tydens dié toernooie het die na Paraguay gemigreerde Australiër Alex Sharman in vyf toetswedstryde vir sy nuwe tuisland gespeel.[50] Vir die Suid-Amerikaanse Rugbykampioenskap 2012 is die span weer in afdeling B gegroepeer, wat hulle onoorwonne in die eerste plek afgesluit het.[51] Die Suid-Amerikaanse Rugbykampioenskap 2013 het Paraguay met ’n nederlaag teen Brasilië in die uitspeelwedstryd afgeskop, waarmee hulle in afdeling B aangebly het, wat hulle beklink het en gepromoveer is.[52] Aangesien die uitspeelwedstryd gelyktydig deel was van die Rugbywêreldbeker 2015-kwalifisering, het die Paraguane dié toernooi misgeloop.[53]

Verdere ontwikkeling

[wysig | wysig bron]

Argentinië het vanweë sy oorskakeling na die Suidelike Halfrond se Rugbykampioenskapstoernooi van 2014 af nie meer met sy dominerende nasionale span aan die jaarlikse vastelandse toernooi deelgeneem nie. In dieselfde jaar was die Paraguane gelyk op punte met Brasilië en Chili en hulle het met hul beter punteverskil vir die eerste keer die toernooi in die tweede plek ná Uruguay afgesluit.[54] Hulle kon egter nie aangaan met dié prestasie nie en het in 2025 slegs die derde plek ná Chili en Uruguay behaal.[55] Die Suid-Amerikaanse Rugbykampioenskappe in 2016 en 2017 het nog erger verloop met onderskeidelik die vierde en laaste plek.[56][57] Albei toernooie het ook gedien as die Rugbywêreldbeker 2019-kwalifisering, waardeur die Paraguane ook dié hooftoernooi misgeloop het.[58]

Tydens die omskepte Suid-Amerikaanse Rugbykampioenskap 2018 het Paraguay slegs die vyfde plek behaal, waarna hulle tydens die 2019-toernooi met die sesde plek nog swakker gevaar het.[59][60] In September 2019 het Paraguay in Asunción vir die eerste keer die bure uit Bolivië gehuisves, vir die Boliviane was dit hulle eerste toetswedstryd ooit. Tot in die 20ste minuut kon die gaste goed tred hou, maar die Paraguane het uiteindelik met 109–0 hulle hoogste oorwinning in dié tyd aangeteken.[61] Daartussen het Paraguay aan die Amerikaanse Rugby-uitdaagbeker vir Amerikaspanne ná die Amerikaanse Rugbykampioenskap deelgeneem, wat tussen twee spanne elk van Noord- en Suid-Amerika beslis is. Hulle het in 2018 tweede en in 2019 derde geëindig, telkens ná Colombia en om die beurt met Meksiko.[62][63] Ná die uitbreek van die wêreldwye Covid-19-pandemie aan die begin van 2020 kon vir anderhalf jaar geen toetswedstryd gespeel word nie, die Suid-Amerikaanse Rugbykampioenskap is ook eers in 2022 weer beslis. In Julie 2021, met die afskop van die Rugbywêreldbeker 2023-kwalifisering, het die Yacaras weer aan die internasionale speelprogram deelgeneem. In rondte 1 het hulle egter teen Brasilië vasgeval.[64]

Aan die hervatte Suid-Amerikaanse Rugbykampioenskappe in 2022 en 2023 het die sterker spanne Argentinië, Chili en Uruguay nie deelgeneem nie, waarby die Paraguane telkens deur Brasilië verslaan is, terwyl hulle Colombia geklop het.[65][66] In 2024 het die span vir die eerste keer aan ’n midjaarrugbytoetsreeks deelgeneem en beide Hongkong en België vir die eerste amptelike toetswedstryde teen nie-Suid-Amerikaanse teenstanders gehuisves.[67] Teen Hongkong het die gasheer ’n swak nederlaag gely, waarna die nederlaag teen België minder erg was.[68][69] Die Suid-Amerikaanse Rugbywêreldbeker 2027-kwalifisering het Paraguay in Augustus 2024 in die tweede rondte afgeskop, waar hulle ná swak nederlae teen beide Brasilië en Chili teen Colombia te staan gekom het.[70] Daar het hulle ’n maklike oorwinning behaal, waarna die Paraguane in Julie 2025 in die tweede rondte se tuis- en wegwedstryde, wat gelyktydig as Suid-Amerikaanse Rugbykampioenskap geag is, teen die Uruguane swak nederlae gely het, waarop in Oktober 2025 die uitspeelwedstryde teen Brasilië om die derde plek en vir die internasionale uitspeelrondte gevolg het en Paraguay ná twee oorwinnings glo die internasionale uitspeelrondte gehaal het.[71] Nadat die beheerliggaam kennis geneem het van ’n ongeskikte speler het die Paraguane hulleself vrywillig onttrek en hul plek aan die Brasiliane oorhandig.[72]

Kleure, embleem en bynaam

[wysig | wysig bron]
Die Paraguaanse kaaiman, embleem van die Paraguaanse nasionale rugbyspan

Paraguay speel tradisioneel in ’n gestreepte rooi en wit trui, donkerblou broeke en rooi sokkies, die kleure van die nasionale vlag. Hul alternatiewe trui is wit met donkerblou moue, donkerblou broeke en donkerblou sokkies.

Die huidige truiverskaffer is die Uruguaanse sportuitruster Flash; truiborge is die Paraguaanse biermerk Munich Ultra[73] en die Paraguaanse ueno bank. Die beheerliggaam se kenteken verskyn op die regterbors, die truiverskaffer se kenteken links en die borgkenteken in die middel.

Die beheerliggaam Paraguaanse Rugbyunie se kenteken, wat ook op die trui verskyn, toon ’n Paraguaanse kaaiman in die nasionale kleure rooi, wit en blou met die afkorting URP daaronder. Die nasionale span se bynaam Los Yacarés (“die kaaimanne”) is ontleen aan die Spaanse naam van dié reptiel uit die familie Alligatoridae wat wydverspreid in Suid-Amerika voorkom.

Tuisstadion

[wysig | wysig bron]

Amper al die tuiswedstryde van die Paraguaanse nasionale rugbyspan word in die metropolitaanse gebied van Asunción, dié land se hoofstad, aangebied. In dié metropolitaanse gebied word veral die Estadio Héroes de Curupayty in Luque net buite die hoofstad met ’n kapasiteit van sowat 3 000 en verskeie stede in Asunción gebruik; vroeër is ook wedstryde by die Colegio San José, die Estadio General Pablo Rojas en die Club Universitario de Asunción gespeel. Die Estadio Héroes de Curupayty is in besit van die Paraguaanse regering, wat dit deur middel van ’n konsessie-ooreenkoms aan die rugbyunie beskikbaar stel vir gebruik.[74] Hier word amper al die nasionale span se tuiswedstryde, die Yacaré-konsessie,[75] die meeste wedstryde tydens die nasionale rugbykampioenskap en ander rugbybyeenkomste aangebied; buitendien is die rugbybeheerliggaam se hoofkantoor hier gesetel.

Toetswedstryde

[wysig | wysig bron]

Paraguay het 38 van sy 136 toetswedstryde gewen, ’n wenrekord van 27,94%. Paraguay se statistieke in toetswedstryde teen al die lande, in alfabetiese volgorde, is soos volg (korrek teen Julie 2026):[76]

Teenstander Gespeel Gewen Verloor Gelykop % Gewen
Vlag van Argentinië Argentinië1701700,00
Vlag van België België10100,00
Vlag van Bermuda Bermuda1100100,00
Vlag van Bolivië Bolivië1100100,00
Vlag van Brasilië Brasilië341321038,24
Vlag van Chili Chili2812703,57
Vlag van Colombia Colombia13103076,92
Vlag van Guyana Guyana1100100,00
Vlag van Hongkong Hongkong10100,00
Vlag van Kaaimanseilande Kaaimanseilande1100100,00
Vlag van Meksiko Meksiko211050,00
Vlag van Peru Peru5500100,00
Vlag van Uruguay Uruguay2702610,00
Vlag van Venezuela Venezuela4400100,00
Algeheel1363897127,94

Rekords

[wysig | wysig bron]

Wêreldbekerrekord

[wysig | wysig bron]

Paraguay kon tot dusver nog nie vir ’n rugbywêreldbekertoernooi kwalifiseer nie.

JaarUitslag
1987Nie genooi nie
1991Nie deelgeneem nie
1995Nie gekwalifiseer nie
1999Nie gekwalifiseer nie
2003Nie gekwalifiseer nie
2007Nie gekwalifiseer nie
2011Nie gekwalifiseer nie
2015Nie gekwalifiseer nie
2019Nie gekwalifiseer nie
2023Nie gekwalifiseer nie
2027Nie gekwalifiseer nie
2031N.v.t.

Suid-Amerikaanse Rugbykampioenskap

[wysig | wysig bron]

Paraguay neem sedert 1971 aan die Suid-Amerikaanse Rugbykampioenskappe deel. Hulle het sedertdien nog nie ’n toernooi gewen nie en drie keer tweede en drie keer in die derde plek geëindig.

Amerikaanse Rugby-uitdaagbeker

[wysig | wysig bron]

Paraguay het in 2018 en 2019 aan die Amerikaanse Rugby-uitdaagbeker vir Amerikaspanne ná die Amerikaanse Rugbykampioenskap deelgeneem, wat tussen twee spanne elk van Noord- en Suid-Amerika beslis is. Hul beste prestasie was die tweede plek in 2018.

Ander toetswedstryde

[wysig | wysig bron]

In teenstelling met ander tradisionele rugbylande het die Paraguaanse nasionale rugbyspan tydens die amateurtydperk nie oorsese toere onderneem nie en tot in die middel-1990’s slegs wedstryde in Suid-Amerika gespeel. Daarteenoor het hulle deur Suid-Amerika toerende nasionale spanne gehuisves. Deesdae is toetswedstryde teen die spanne van die Noordelike Halfrond tweekeer per jaar moontlik. Gedurende Juniemaand se midjaarrugbytoetsreeks tree Paraguay as gasheer op en gedurende Novembermaand se eindjaarrugbytoetsreeks reis Paraguay na Europa. In teenstelling met die meeste ander rugbylande speel Paraguay nie vir enige trofee teen sy teenstanders nie.

Spelers

[wysig | wysig bron]

Huidige span

[wysig | wysig bron]

Die volgende spelers het die Paraguaanse span gevorm tydens die 2024/25-seisoen:[77]

Agterspelers (zagueros)
SpelerPosisieKlubToetswedstryde
Gonzalo BareiroSkrumskakelYacaré35
Diego MiñoSkrumskakelYacaré15
Héctor GayosoLosskakelYacaré16
Joaquín MussiLosskakelYacaré7
Ramiro AmarillaSenterYacaré8
Rafael BareiroSenterYacaré9
Sebastián UrbietaSenterYacaré29
Patricio CabreraVleuelYacaré1
Juan GonzálezVleuelYacaré19
Arturo LópezVleuelYacaré13
Gianfranco ParodiVleuelYacaré11
Facundo PaivaHeelagterYacaré8
Voorspelers (delanteros)
SpelerPosisieKlubToetswedstryde
Agustín Benítez ScribanoHakerYacaré4
Jordi ChávezHakerYacaré8
Lucas OtañoHakerYacaré6
Estéfano ArandaStutYacaré10
Camilo BlascoStutYacaré18
Daniel CabralStutYacaré19
Cesar Pérez GautoStutYacaré4
Enrique QuinterosStutYacaré16
Mariano Garcete KapteinSlotYacaré19
Juan José HeiseckeSlotYacaré9
Adrián LeónSlotYacaré5
Ignacio MartínezSlotYacaré12
Francisco BareiroLosvoorspelerYacaré7
Ariel NuñezLosvoorspelerYacaré18
Mateo RodriquezLosvoorspelerYacaré3
Juan Martín SebrianoLosvoorspelerYacaré2

Bekende spelers

[wysig | wysig bron]

Tot dusver is nog geen Paraguaanse speler in Wêreldrugby se Heldesaal opgeneem nie.

Spelerstatistieke

[wysig | wysig bron]

Vervolgens die belangrikste statistieke van Paraguay se spelers. Die spelers wat met * gekenmerk is, is nog aktief en kan hul statistieke verbeter.

(Korrek teen Julie 2026)

Meeste toetswedstryde[78]
RangNaamTydperkToetswedstryde
1Gonzalo Bareiro *2011–202535
2Sebastián Urbieta *2012–202529
3Gerard Cuttier2009–201624
4Juan González2018–202522
5Rodrigo Llamosas2005–201521
6Carlos Bareiro2012–201921
7Sergio Alvarenga2010–201921
8Ariel Nuñez *2019–202519
9Mariano Garcete *2018–202519
10Daniel Cabral *2017–202519
Meeste punte aangeteken[79]
RangNaamTydperkPunte
1Sergio Alvarenga2010–2019128
2Rodrigo Llamosas2005–201593
3Sebastián Urbieta *2012–202576
4Walter Hoppe2001–200866
5Gerard Cuttier2009–201661
6Aníbal Rotela2004–200561
7Vicente Amigo2012–201245
8Everhard Heydel2004–200543
9Diego Urrutia2004–200840
10Twee spelers met 30 punte elk
Meeste drieë gedruk[80]
RangNaamTydperkDrieë
1Rodrigo Llamosas2005–201311
2Walter Hoppe2001–20089
3Diego Urrutia2005–20088
4Everhard Heydel2004–20057
5Aníbal Rotela2004–20057
6José Lezcano2012–20156
7Rafael Boccia2001–20086
8Francisco Bareiro2015–20255
9Gerard Cuttier2010–20155
10David Sueldo2003–20055

Afrigters

[wysig | wysig bron]

Die volgende persone het al as hoofafrigters van die Paraguaanse nasionale rugbyspan gedien:

NaamTydperk
Vlag van Argentinië Pedro Baraldi2012–2015
Vlag van Argentinië Eduardo Acosta2015–2016
Vlag van Argentinië Nahuel García2017–2018
Vlag van Argentinië Raúl Pérez2018–2022
Vlag van Argentinië Ricardo Le Fortsedert 2023

Sien ook

[wysig | wysig bron]

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. ↑ (en) "Most matches". ESPNscrum. Besoek op 21 Julie 2026.
  2. ↑ (en) "Most points". ESPNscrum. Besoek op 21 Julie 2026.
  3. ↑ (en) "Most tries". ESPNscrum. Besoek op 21 Julie 2026.
  4. ↑ (en) "Women's and Men's Rankings". Wêreldrugby. Besoek op 21 Julie 2026.
  5. 1 2 (en) "Paraguay". Wêreldrugby. Besoek op 21 Julie 2026.
  6. 1 2 (es) "Historia". Suid-Amerika Rugby. 2021. Besoek op 21 Julie 2026.
  7. ↑ (en) "Focus for Super Rugby Americas Expansion". Americas Rugby News. 10 Maart 2026. Besoek op 21 Julie 2026.
  8. ↑ (en) "World Rugby U20 Trophy". Wêreldrugby. Besoek op 21 Julie 2026.
  9. 1 2 (en) Richard Bath (1997). The Complete Book of Rugby. Seven Oaks Ltd. pp. 72. ISBN 1-86200-013-1.
  10. ↑ (en) Chris Thau: The South American Scene in Nigel Starmer-Smith en Ian Robertson (redakteurs) The Whitbread Rugby World '89 (Lennard Books, 1988, ISBN 1-85291-038-0) bl. 52
  11. 1 2 (fr) Olivier Villepreux (16 September 2023). "Le rugby mondial vu d'ailleurs (3) Nicolas Caceres (Paraguay) : « Nous vivons une période qui ressemble à celle qu'a vécue l'Argentine dans les années 1980. »". Le Monde. Besoek op 21 Julie 2026.
  12. ↑ (es) "Historia del Rugby en Paraguay". Scribd, Inc. Besoek op 21 Julie 2026.
  13. ↑ (en) "Sudamericano de Rugby 1971". rugbyarchive.net. 2022. Besoek op 21 Julie 2026.
  14. ↑ (en) "Sudamericano de Rugby 1973". rugbyarchive.net. 2022. Besoek op 21 Julie 2026.
  15. ↑ (en) "Sudamericano de Rugby 1975". rugbyarchive.net. 2022. Besoek op 21 Julie 2026.
  16. ↑ (en) "Sudamericano de Rugby 1979". rugbyarchive.net. 2022. Besoek op 21 Julie 2026.
  17. ↑ (en) "Sudamericano de Rugby 1977". rugbyarchive.net. 2022. Besoek op 21 Julie 2026.
  18. ↑ (en) "1980 South Africa tour to South America". rugbyarchive.net. 2022. Besoek op 21 Julie 2026.
  19. ↑ (fr) Henri Garcia (2011). La fabuleuse histoire du rugby. Parys: Éditions de La Martinière. pp. 611–612. ISBN 978-2-7324-4528-1.
  20. ↑ (en) "Sudamericano de Rugby 1981". rugbyarchive.net. 2022. Besoek op 21 Julie 2026.
  21. ↑ (en) "Sudamericano de Rugby 1983". rugbyarchive.net. 2022. Besoek op 21 Julie 2026.
  22. ↑ (en) "Sudamericano de Rugby 1985". rugbyarchive.net. 2022. Besoek op 21 Julie 2026.
  23. ↑ (en) "Sudamericano de Rugby 1987". rugbyarchive.net. 2022. Besoek op 21 Julie 2026.
  24. ↑ (en) "1987 Rugby World Cup: The long road to the cup". New Zealand History. 2021. Besoek op 21 Julie 2026.
  25. ↑ (en) "1988 France tour to South America". rugbyarchive.net. 2022. Besoek op 21 Julie 2026.
  26. ↑ (en) "1988 South West Africa tour to South America". rugbyarchive.net. 2022. Besoek op 21 Julie 2026.
  27. ↑ (en) "Sudamericano de Rugby 1989". rugbyarchive.net. 2022. Besoek op 21 Julie 2026.
  28. ↑ (en) "1991 Rugby World Cup – American qualifiers". rugbyarchive.net. 2022. Besoek op 21 Julie 2026.
  29. ↑ (en) "Sudamericano de Rugby 1991". rugbyarchive.net. 2022. Besoek op 21 Julie 2026.
  30. ↑ (en) "Sudamericano de Rugby 1993". rugbyarchive.net. 2022. Besoek op 21 Julie 2026.
  31. ↑ (en) "1995 Rugby World Cup – American qualifiers". rugbyarchive.net. 2022. Besoek op 21 Julie 2026.
  32. ↑ (en) "Sudamericano de Rugby 1995". rugbyarchive.net. 2022. Besoek op 21 Julie 2026.
  33. ↑ (en) "Sudamericano de Rugby 1997". rugbyarchive.net. 2022. Besoek op 21 Julie 2026.
  34. ↑ (en) "Sudamericano de Rugby 1998". rugbyarchive.net. 2022. Besoek op 21 Julie 2026.
  35. ↑ (en) "1999 Rugby World Cup – American qualifiers". rugbyarchive.net. 2022. Besoek op 21 Julie 2026.
  36. ↑ (en) "Sudamericano de Rugby – Overview". rugbyarchive.net. 2022. Besoek op 21 Julie 2026.
  37. ↑ (es) "Los Pumas se devoraron a Los Teros". La Red 21. 19 November 2000. Besoek op 21 Julie 2026.
  38. ↑ (en) "Sudamericano de Rugby 2001". rugbyarchive.net. 2022. Besoek op 21 Julie 2026.
  39. ↑ (en) Ray Stubbs (2009). The Sports Book. Dorling Kindersley. p. 119. ISBN 978-1-4053-3697-0.
  40. ↑ (en) "2003 Rugby World Cup – American qualifiers". rugbyarchive.net. 2022. Besoek op 21 Julie 2026.
  41. ↑ (en) "Sudamericano de Rugby 2003". rugbyarchive.net. 2022. Besoek op 21 Julie 2026.
  42. ↑ (en) "Sudamericano de Rugby 2004". rugbyarchive.net. 2022. Besoek op 21 Julie 2026.
  43. ↑ (en) "Sudamericano de Rugby 2005". rugbyarchive.net. 2022. Besoek op 21 Julie 2026.
  44. ↑ (en) "2007 Rugby World Cup – American qualifiers". rugbyarchive.net. 2022. Besoek op 21 Julie 2026.
  45. ↑ (en) "Sudamericano de Rugby 2008". rugbyarchive.net. 2022. Besoek op 21 Julie 2026.
  46. ↑ (en) "2011 Rugby World Cup – American qualifiers". rugbyarchive.net. 2022. Besoek op 21 Julie 2026.
  47. ↑ (en) "Sudamericano de Rugby 2009". rugbyarchive.net. 2022. Besoek op 21 Julie 2026.
  48. ↑ (en) "Sudamericano de Rugby 2010". rugbyarchive.net. 2022. Besoek op 21 Julie 2026.
  49. ↑ (en) "Sudamericano de Rugby 2011". rugbyarchive.net. 2022. Besoek op 21 Julie 2026.
  50. ↑ (en) "Alex Sharman". ESPNscrum. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 20 November 2021. Besoek op 20 November 2021.
  51. ↑ (en) "Sudamericano de Rugby 2012". rugbyarchive.net. 2022. Besoek op 21 Julie 2026.
  52. ↑ (en) "Sudamericano de Rugby 2013". rugbyarchive.net. 2022. Besoek op 21 Julie 2026.
  53. ↑ (en) "2015 Rugby World Cup – American qualifiers". rugbyarchive.net. 2022. Besoek op 21 Julie 2026.
  54. ↑ (en) "Sudamericano de Rugby 2014". rugbyarchive.net. 2022. Besoek op 21 Julie 2026.
  55. ↑ (en) "Sudamericano de Rugby 2015". rugbyarchive.net. 2022. Besoek op 21 Julie 2026.
  56. ↑ (en) "Sudamericano de Rugby 2016". rugbyarchive.net. 2022. Besoek op 21 Julie 2026.
  57. ↑ (en) "Sudamericano de Rugby 2017". rugbyarchive.net. 2022. Besoek op 21 Julie 2026.
  58. ↑ (en) "2019 Rugby World Cup – American qualifiers". rugbyarchive.net. 2022. Besoek op 21 Julie 2026.
  59. ↑ (en) "Sudamericano de Rugby 2018". rugbyarchive.net. 2022. Besoek op 21 Julie 2026.
  60. ↑ (en) "Sudamericano de Rugby 2019". rugbyarchive.net. 2022. Besoek op 21 Julie 2026.
  61. ↑ (en) "Paraguay Outclass Bolivia In Historic Test Match". Americas Rugby News. 21 September 2019. Besoek op 21 Julie 2026.
  62. ↑ (en) "2018 Americas Rugby Challenge". rugbyarchive.net. 2022. Besoek op 21 Julie 2026.
  63. ↑ (en) "2019 Americas Rugby Challenge". rugbyarchive.net. 2022. Besoek op 21 Julie 2026.
  64. ↑ (en) "2023 Rugby World Cup – American qualifiers". rugbyarchive.net. 2023. Besoek op 21 Julie 2026.
  65. ↑ (en) "Sudamericano de Rugby 2022". rugbyarchive.net. 2022. Besoek op 21 Julie 2026.
  66. ↑ (en) "Sudamericano de Rugby 2023". rugbyarchive.net. 2023. Besoek op 21 Julie 2026.
  67. ↑ (en) "Paraguay Joins Annual July Internationals". Americas Rugby News. 17 April 2024. Besoek op 21 Julie 2026.
  68. ↑ (en) "Hong Kong Blast Past Paraguay in Asunción". Americas Rugby News. 13 Julie 2024. Besoek op 21 Julie 2026.
  69. ↑ (en) "Paraguay Show Great Improvement in Loss to Belgium". Americas Rugby News. 21 Julie 2024. Besoek op 21 Julie 2026.
  70. ↑ (en) "2027 Rugby World Cup – South American qualifiers". rugbyarchive.net. 2025. Besoek op 21 Julie 2026.
  71. ↑ (en) "Paraguay Book Repechage for Last Spot at Rugby World Cup 2027". Americas Rugby News. 18 Oktober 2025. Besoek op 21 Julie 2026.
  72. ↑ (en) "Paraguay's Withdrawal gives Brazil Rugby World Cup 2027 Lifeline". Americas Rugby News. 24 Oktober 2025. Besoek op 21 Julie 2026.
  73. ↑ (es) "Munich Ultra renueva con la Unión de Rugby". ABC Color. 12 November 2024. Besoek op 21 Julie 2026.
  74. ↑ (es) "Gobierno, a través de la SND habilitó mejoras en cancha de rugby del Parque Olímpico". Paraguaanse regering. 25 November 2020. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 28 Oktober 2022. Besoek op 28 Oktober 2022.
  75. ↑ (en) "Installations Resume at Paraguay's Héroes de Curupayty". Americas Rugby News. 20 Mei 2020. Besoek op 7 September 2025.
  76. ↑ (en) "International Rugby Union Statistics – Paraguay". ESPNscrum. Besoek op 21 Julie 2026.
  77. ↑ (en) "The Paraguay national rugby union team for 2024/2025". All Rugby. Besoek op 21 Julie 2026.
  78. ↑ (en) "Total matches played (descending)". ESPNscrum. Besoek op 21 Julie 2026.
  79. ↑ (en) "Total points scored (descending)". ESPNscrum. Besoek op 21 Julie 2026.
  80. ↑ (en) "Total tries scored (descending)". ESPNscrum. Besoek op 21 Julie 2026.

Bronnelys

[wysig | wysig bron]

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]