Gaan na inhoud

Brasiliaanse Rugbykonfederasie

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Brasiliaanse Rugbykonfederasie
Kenteken van die Brasiliaanse Rugbykonfederasie
Kenteken van die Brasiliaanse Rugbykonfederasie
Portugese naam Confederação Brasileira de Rugby
Afkorting CBRu
Land Vlag van Brasilië Brasilië
Sportsoorte Rugby, Sewesrugby
Stigting 1963
Lid van Wêreldrugby
Aangesluit in 1995
Vastelandse beheerliggaam Suid-Amerika Rugby
President Martin Jaco
Setel São Paulo, Brasilië
Amptelike taal Portugees
Amptelike webwerf brasilrugby.com.br

Die Brasiliaanse Rugbykonfederasie (Portugees: Confederação Brasileira de Rugby, afgekort “CBRu”) is die bestuursliggaam wat rugby en sewesrugby in Brasilië beheer. Die beheerliggaam is in 1963 gestig en in São Paulo gesetel. Sedert 1995 verteenwoordig dit Brasilië by Wêreldrugby en sedert 1988 ook by Suid-Amerika Rugby (SAR).

Geskiedenis

[wysig | wysig bron]

Die Brasiliaanse Rugbykonfederasie is in 1963 onder die naam Brasiliaanse Rugbyunie (União de Rugby do Brasil, URB) gestig en in 1970 in Brasiliaanse Rugbyvereniging (Associação Brasileira de Rugby, ABR) hernoem; in 2010 het die beheerliggaam sy huidige naam aangeneem. In 1995 het die Brasiliaanse beheerliggaam ’n volle lid van die Internasionale Rugbyvoetbalraad (IRVR; nou Wêreldrugby) geword.[1] Daarbenewens was die Brasiliaanse beheerliggaam in 1988 ’n stigterslid van CONSUR (Confederación Sudamericana de Rugby, “Suid-Amerikaanse Rugbykonfederasie”; nou Suid-Amerika Rugby, SAR).[2]

Die Brasiliaanse Rugbykonfederasie organiseer verskeie nasionale spanne, insluitend Brasilië se nasionale seniormansrugbyspan (die Tupi’s), vroue (die Yara’s) en jeug. Die CBRu hou ook toesig oor sewesrugby in Brasilië en aangesien dit ’n Olimpiese sportsoort is, werk hulle met die Brasiliaanse Nasionale Olimpiese Komitee saam. Naas die amptelike nasionale span roep die Brasiliaanse Rugbykonfederasie ook ander keurspanne byeen. Daarbenewens bestuur die beheerliggaam kinder- en jeugrugby in Brasilië. Kinders en jongmense word reeds op skool aan rugby bekend gestel en na gelang van hul belangstelling en talent begin hulle met hul afrigting. Net soos ander rugbylande beskik Brasilië oor ’n o/20-nasionale span wat aan die Wêreldrugby o/20-trofee deelneem.[3] Die Brazil Sevens is die Brasiliaanse sewesrugbyspan en hulle neem aan internasionale toernooie soos Wêreldrugby se Sewesreeks, Sewesrugbywêreldbeker en Olimpiese Somerspele deel.

Die hoogste rugbyliga in die land is die Campeonato Brasileiro de Rugby wat in 1964 gestig is en tans tussen twaalf spanne beslis word (vandaar die handelsnaam Super 12), waarvan die meeste uit die deelstaat São Paulo. In die verlede was die meeste spelers van die Brasiliaanse nasionale span uit dié amateurliga afkomstig. Sedert 2020 draf die meeste Brasiliaanse spelers egter uit vir die keurspan Cobras wat aan die professionele Superrugby Amerikas deelneem. Hieraan neem ook spanne uit Argentinië, Chili, Paraguay en Uruguay deel.[4] Van die ander spelers is veral op professionele vlak in Europa aktief.

Kenteken

[wysig | wysig bron]

Die Brasiliaanse Rugbykonfederasie se kenteken toon ’n rugbybal tussen twee doelpale op ’n geel agtergrond met die afkorting CBRu daarbo.

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. ↑ (en) "Brazil". Wêreldrugby. Besoek op 8 Augustus 2026.
  2. ↑ (es) "Historia". Suid-Amerika Rugby. 2021. Besoek op 8 Augustus 2026.
  3. ↑ (en) "World Rugby U20 Trophy". Wêreldrugby. Besoek op 8 Augustus 2026.
  4. ↑ (en) "Focus for Super Rugby Americas Expansion". Americas Rugby News. 10 Maart 2026. Besoek op 8 Augustus 2026.

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]