Arktiese Oseaan
Die Arktiese Oseaan, wat ook as die Noordelike Yssee of Noordpoolsee bekend staan, is hoofsaaklik in die Noordpoolstreek geleë. Dit is die kleinste en vlakste van die wêreld se vyf oseane.[1] Groot dele van die oseaan word vir dele van die jaar of die hele jaar deur see-ys bedek. Alhoewel die Internasionale Hidrografiese Organisasie dit as 'n oseaan erken, verwys sommige oseanoloë daarna as die "Arktiese Middellandse See" of slegs die "Arktiese See".[2] Alternatiewelik kan dit ook as die mees noordelike deel van die hele Wêreldoseaan gesien word.

| Die Aarde se vyf Oseane |
Die Arktiese Oseaan se temperatuur en soutgehalte verskil seisoenaal, soos die boonste yslae smelt en weer vries.[3] Dit het die laagste soutgehalte van die vyf oseane, as gevolg van die lae verdamping, hoë hoeveelhede varswater wat afkomstig is van riviere en strome en die beperkte verbinding met die omliggende oseaniese waters wat hoër soutgehaltes het.
Geografie
wysig
Die Arktiese Oseaan beslaan 'n ronde bekken en dek 'n oppervlak van ongeveer 14 090 000 vierkante kilometer (5 440 000 myl²), effens minder as 1,5 keer die grootte van die Verenigde State. Die kuslynlengte is 45 389 km. Die diepste punt in die oseaan is die Molloygat in die Framstraat op ongeveer 5 550 m (18 209 voet).[4][5]
Die oseaan word omring deur die landmassas van Eurasië (Rusland en Noorweë), Noord-Amerika (Kanada en die Amerikaanse staat Alaska), Groenland en Ysland, en deur 'n aantal eilande. Dit sluit talle randseë en ander waterliggame in, waaronder die Baffinbaai, Barentssee, Beaufortsee, Tsjoekotkasee, Oos-Siberiese See, Groenlandsee, Hudsonbaai, Hudsonstraat, Karasee, Laptefsee en Witsee. Dit is verbind aan die Stille Oseaan deur die Beringseestraat en aan die Atlantiese Oseaan deur die Groenlandsee en Labradorsee.
'n Onderwaterrif, die Lomonosowrif, verdeel die diepsee Noord-polêre Bekken in twee bekkens: die Eurasiese-, of Nansenbekken, (vernoem na die Noorse ontdekker Fridtjof Nansen) wat tussen 4 000 en 4 500 m (13 000 en 15 000 voet) diep is, en die Noord-Amerikaanse, of Hiperborese Bekken, wat omtrent 4 000 m diep is. Die topografie van die oseaanbodem word gekenmerk deur skeurblokriwwe, diepseevlaktes, oseaandieptes en bekkens. Die gemiddelde diepte van die Arktiese Oseaan is 1 038 m (3 407 voet), deels toegeskryf aan die grootte van die vastelandplaat aan die Eurasiese kant.[5]
Die hoofwatertoevoer is uit die Atlantiese Oseaan deur middel van die Noorweëstroom, wat dan langs die Eurasiese kus verder vloei. Water vloei ook uit die Stille Oseaan in deur die Beringseestraat. Die Oos-Groenlandstroom vorm die belangrikste uitloop.
Temperatuur en soutgehalte wissel volgens seisoen soos die ysbedekking smelt en vries. Ys bedek die grootste deel van die oseaanoppervlak, wat vir groot dele van die jaar benede vriespunt is. Daar is aansienlike seisoenale wisseling in die hoeveelheid pakys wat die oseaan bedek. Dit word vir omtrent 10 maande in die jaar deur sneeu bedek. Die maksimum sneeubedekking is in Maart of April—omtrent 20 tot 50 cm bo-op die bevrore oseaan.
Min seelewe word aangetref waar die oseaan deurgaans deur ys bedek is. In oop dele is seelewe baie volop, veral in meer suidelike waters. Die Arktiese Oseaan sluit 'n groot aantal eilande in, waaronder Groenland en die Groenlandeilande, die Kanadese Arktiese Argipel, Jan Mayen en Svalbard (wat deel van die Koninkryk van Noorweë is) en die Russiese eilandgroepe en eilande: Franz Josef-land, die Nieu-Siberiese Eilande, Nowaja Zemlja, Sewernaja Zemlja, Wajgatsj en Wrangeleiland.
Yseilande breek nou en dan van die noorde van Ellesmere-eiland af weg, en ysberge word deur die gletsers van westelike Groenland en die heel noordoostelike deel van Kanada gevorm. Ysberge is nie see-ys nie, maar kan in die pakys vasgevang raak en hou steeds 'n gevaar vir skepe in. Ysgrond kom op die eilande in die oseaan voor en die oseaan is so te sê deur ys ingesluit van Oktober tot Junie.
Randseë
wysigVerskillende owerhede plaas van die randseë – onder andere die Hudsonbaai, Baffinbaai, die Noorweegse See en Hudsonstraat – in óf die Arktiese óf die Atlantiese Oseaan.[6]
Die grootste randseë van die Arktiese Oseaan is:
- Barentssee – 1,4 miljoen km²
- Hudsonbaai – 1,23 miljoen km² (word soms nie ingesluit nie)
- Groenlandsee – 1,205 miljoen km²
- Oos-Siberiese See – 987 000 km²
- Karasee – 926 000 km²
- Laptefsee – 662 000 km²
- Tsjoekotkasee – 620 000 km²
- Beaufortsee – 476 000 km²
- Amundsengolf – 93 000 km²
- Witsee – 90 000 km²
- Petsjorasee – 81 263 km²
- Lincolnsee – 64 000 km²
Vastelandplate en onderwaterkenmerke
wysigDie oseaan se vastelandplate bestaan uit die Kanadese Arktiese plat en die Russiese vastelandplat, wat weer uit drie kleiner plate opgebou is: die Barentsplat, die Tsjoekotkaplat en die Siberiese plat. Van die drie is die Siberiese plat die grootste vastelandplat op aarde, en dit bevat groot olie- en gasreserwes. Die rand van die Tsjoekotkaplat vorm die grens tussen Rusland en die Verenigde State soos in die Baker-Sjewardnadze-lyn van die 1990-ooreenkoms oor die seegrens vasgestel is. Die Tsjoektsjeplato strek vanaf die Tsjoekotkaplat.[7]
Die twee groot bekkens word deur verdere riwwe onderverdeel: die Kanadabekken (tussen die Beaufortplat van Noord-Amerika en die Alpharif), die Makarowbekken (tussen die Alpha- en die Lomonosowrif), die Amundsenbekken (tussen die Lomonosow- en die Gakkelrif) en die Nansenbekken (tussen die Gakkelrif en die vastelandplat waarop Franz Josef-land lê).[7]
Geologie
wysigDie kristallyne grondgesteentes van die berge om die Arktiese Oseaan is gedurende die Ellesmeriese fase van die groter Kaledoniese gebergtevorming in die Paleosoïkum hervorm of gevorm. Streekwye insinking in die Jura- en Triastydperk het tot beduidende sedimentafsetting gelei, wat baie van die reservoirs vir vandag se olie- en gasafsettings geskep het. Gedurende die Kryttydperk het die Kanadese Bekken oopgegaan, en tektoniese aktiwiteit as gevolg van die samestelling van Alaska het koolwaterstoffe laat migreer na wat vandag Prudhoebaai is. Terselfdertyd het sedimente wat van die stygende Kanadese Rotsgebergte afgevoer is, die groot Mackenziedelta opgebou.[8]
Die opbreek van die superkontinent Pangea, wat in die Triastydperk begin het, het die vroeë Atlantiese Oseaan geopen. Die skeuring het daarna noordwaarts uitgebrei en die Arktiese Oseaan geopen namate mafiese oseaankorsmateriaal uit 'n tak van die Mid-Atlantiese Rif uitgebars het. Die Amerasiese Bekken het waarskynlik eerste oopgegaan, met die Tsjoektsjeplato wat deur transformasieverskuiwings na die noordooste beweeg is. Verdere spreiding het gehelp om die drieledige verbinding van die Alpha-Mendelejewrif in die Laat Kryt te vorm.[8]
Deur die Kainosoïkum het die subduksie van die Stille Oseaanplaat, die botsing van Indië met Eurasië en die voortgesette opening van die Noord-Atlantiese Oseaan nuwe koolwaterstofvalle geskep. Die seebodem het in die Paleoseen en die Eoseen vanaf die Gakkelrif begin sprei, wat veroorsaak het dat die Lomonosowrif verder van die land af beweeg en insink.[8]
Weens die see-ys en die afgeleë omstandighede is die geologie van die Arktiese Oseaan steeds swak verken. Boorwerk deur die Arktiese Kernboor-ekspedisie het lig gewerp op die Lomonosowrif, wat blyk te wees vastelandkors wat in die Paleoseen van die Barents-Karaplat geskei is en daarna van sediment ontneem is. Dit kan tot 10 miljard vate olie bevat. Die skeur van die Gakkelrif word ook swak verstaan en strek moontlik tot in die Laptefsee.[7]
Oseanografie
wysigWatermassas en waterbeweging
wysigIn groot dele van die Arktiese Oseaan het die boonste laag – sowat 50 m diep – 'n laer soutgehalte en 'n laer temperatuur as die res. Dié laag bly betreklik stabiel omdat die soutgehalte se uitwerking op digtheid groter is as dié van temperatuur. Dit word gevoed deur die varswatertoevoer van die groot Siberiese en Kanadese riviere – die Ob, Jenisei, Lena en Mackenzie – waarvan die water so te sê op die souter, digter en dieper oseaanwater dryf. Tussen dié laag met sy laer soutgehalte en die grootste deel van die oseaan lê die sogenaamde halokline, waarin sowel die soutgehalte as die temperatuur met toenemende diepte styg.[9]
Weens die oseaan se betreklike afsondering van die ander oseane het dit 'n besonder ingewikkelde stelsel van waterbeweging. Die totale volume is 18,07 miljoen km³, ongeveer 1,3 % van die Wêreldoseaan. Die gemiddelde oppervlaksirkulasie is oorwegend siklonies aan die Eurasiese kant en antisiklonies in die Kanadese Bekken.[9]
Water tree sowel uit die Stille as die Atlantiese Oseaan toe en kan in drie onderskeie watermassas verdeel word. Die diepste, die Arktiese Bodemwater, begin op sowat 900 m diepte. Dit bestaan uit die digste water in die Wêreldoseaan en het twee hoofbronne: water van die Arktiese vastelandplate en Groenlandsee-diepwater. Water wat as toevloei uit die Stille Oseaan begin, beweeg teen 'n gemiddelde tempo van 0,8 sverdrup deur die smal Beringseestraat na die Tsjoekotkasee. In die winter waai koue Alaskawinde oor die Tsjoekotkasee, vries die oppervlakwater en stoot die nuwe ys na die Stille Oseaan uit. Dié proses laat dig, sout water in die see agter wat oor die vastelandplat na die westelike Arktiese Oseaan sink en 'n halokline vorm.[10]
Op 'n diepte van 150 tot 900 m lê 'n watermassa wat as Atlantiese Water bekend staan. Toevloei uit die Noord-Atlantiese Stroom tree deur die Framstraat toe, koel af en sink om die diepste laag van die halokline te vorm, waar dit antikloksgewys om die Arktiese Bekken beweeg. Dit is die grootste volumetriese toevloei tot die Arktiese Oseaan – sowat tien keer dié uit die Stille Oseaan – en dit vorm die Arktiese Oseaan se grensstroom. Atlantiese Water het dieselfde soutgehalte as die Arktiese Bodemwater maar is veel warmer, tot 3 °C; dit is in werklikheid warmer as die oppervlakwater en bly slegs onder die oppervlak vanweë die soutgehalte se rol in digtheid. Wanneer die water die bekken bereik, word dit deur sterk winde in 'n groot sirkelvormige stroom, die Beaufortgier, gestoot.[9][11]
Die derde watermassa, Arktiese Oppervlakwater, word op 'n diepte van 150 tot 200 m aangetref. Die belangrikste kenmerk daarvan is die sogenaamde onderoppervlaklaag, wat ontstaan uit Atlantiese water wat deur onderseese klowe toetree en op die Siberiese plat sterk vermeng word. Namate dit meegevoer word, koel dit af en tree dit as 'n hitteskild vir die oppervlaklaag op, omdat die lae swak met mekaar vermeng.[9]
Oor die afgelope paar dekades lei 'n kombinasie van die verwarming en die opstyging van Atlantiese water egter tot 'n groter rol vir Atlantiese hitte in die smelt van see-ys in die oostelike Arktiese gebied. Die jongste skattings, vir 2016 tot 2018, dui daarop dat die oseaniese hittevloei na die oppervlak nou dié uit die atmosfeer in die oostelike Eurasiese Bekken oortref het.[12]
Water uit sowel die Stille as die Atlantiese Oseaan verlaat die Arktiese Oseaan deur die Framstraat tussen Groenland en Spitsbergen, wat sowat 2 700 m diep en 350 km wyd is. Dié uitvloei is ongeveer 9 sverdrup. Die breedte van die Framstraat maak sowel toevloei as uitvloei aan die Atlantiese kant moontlik, en die Corioliskrag konsentreer die uitvloei in die Oos-Groenlandstroom aan die westekant en die toevloei in die Noorweëstroom aan die oostekant. Water uit die Stille Oseaan verlaat die oseaan ook langs die weskus van Groenland en deur Hudsonstraat teen 1 tot 2 sverdrup, wat voedingstowwe aan die Kanadese Argipel verskaf.[9]
See-ys
wysigDie gemiddelde oppervlak wat deur Arktiese see-ys bedek word, neem die afgelope dekades voortdurend af, tans teen sowat 12,85 % per dekade vanaf die gemiddelde winterwaarde van 15,6 miljoen km². Die seisoenale wisseling beloop ongeveer 7 miljoen km², met die maksimum in April en die minimum in September. Die see-ys word deur wind en seestrome beïnvloed, wat baie groot ysvelde kan verskuif en laat draai. Daar ontstaan ook sones van saamdrukking waar die ys opstapel om pakys te vorm.[13]
Voor die koms van moderne ysbrekers het skepe wat die Arktiese Oseaan bevaar het, die gevaar geloop om vasgekeer of deur die see-ys vermorsel te word. Die bobouwerk van skepe is van Oktober tot Mei aan ysvorming onderhewig.[14]
Vroeë bewoning
wysig
Menslike bewoning van die Noord-Amerikaanse poolstreek strek minstens 17 000 tot 50 000 jaar terug, gedurende die Wisconsin-glasiaal. Dalende seevlakke het mense in staat gestel om oor die Beringlandbrug te trek wat Siberië met noordwestelike Noord-Amerika verbind het.[15]
Vroeë Paleo-Eskimogroepe sluit die Pre-Dorset (ongeveer 3200 tot 850 v.C.), die Saqqaq-kultuur van Groenland (2500 tot 800 v.C.), die Independence I- en Independence II-kulture van noordoostelike Kanada en Groenland, en die Groswater van Labrador in. Die Dorset-kultuur het tussen 500 v.C. en 1500 n.C. oor Arktiese Noord-Amerika versprei en was die laaste groot Paleo-Eskimokultuur voor die trek ooswaarts uit die hedendaagse Alaska van die Thule-mense, die voorouers van die moderne Inuïete.[16]
Die Thule-tradisie het van ongeveer 200 v.C. tot 1600 n.C. geduur. Dit het by die Beringseestraat ontstaan en later byna die hele Arktiese streek van Noord-Amerika omvat. Die Thule-mense was die voorouers van die Inuïete, wat vandag in Alaska, die Noordwestelike gebiede, Nunavut, Nunavik in noordelike Quebec, Labrador en Groenland woon.[17]
Vir 'n groot deel van die Europese geskiedenis het die noordelike poolstreke grotendeels onverken gebly en was hul geografie bloot bespiegeling. Pytheas van Massilia het 'n verslag opgeteken van 'n reis noordwaarts in 325 v.C. na 'n land wat hy "Eschate Thule" genoem het, waar die son elke dag net drie uur lank ondergegaan het en die water deur 'n gestremde stof vervang is "waarop 'n mens nóg kan loop nóg kan seil". Hy het waarskynlik los see-ys beskryf; sy "Thule" was moontlik Noorweë, hoewel die Faroëreilande en Shetland ook al voorgestel is.[18]
Weens die beperkte inligting wat destyds beskikbaar was, was vroeë kartograwe onseker hoe om die gebiede om die Noordpool voor te stel. Sommige het landstreke ingesluit, soos Johannes Ruysch se kaart van 1507 of Gerardus Mercator se kaart van 1595, terwyl ander die hele gebied as water aangedui het, soos Martin Waldseemüller se wêreldkaart van 1507.[19]
Verkenning
wysig
Verkenning van die Arktiese Oseaan het waarskynlik begin met pogings om 'n Noordelike Seeroete tussen die Atlantiese Oseaan en die Stille Oseaan langs die Siberiese kus van Rusland te vestig. Wikings het reeds in die eerste millennium hulle gebied in die oseaan uitgebrei op soek na pels en ivoor. Russiese setlaars en handelaars het dele van die roete langs die kus van die Witsee reeds in die 11de eeu verken. Die idee van 'n Noordelike Seeroete is in 1525 deur die Russiese diplomaat Dmitri Gerasimof voorgestel. Teen die 17de eeu is 'n aaneenlopende seeroete van Archangelsk tot sover oos as die mond van die Jenisejrivier gevestig.
Westelike dele van die deurgang is gelyktydig deur Noord-Europese lande soos Engeland, Nederland, Denemarke en Noorweë verken, op soek na 'n alternatiewe seeweg na China en Indië. Mees noemenswaardig is die 1596-ontdekkingstog gelei deur die Nederlandse seevaarder Willem Barentsz wat Jan Mayen, Spitsbergen, Bjørnøya en Nowaja Zemlja ontdek het. In 1872 ontdek die Oostenryks-Hongaarse Noordpoolekpedisie Franz Josef-land. In 1878 slaag die Fins-Sweedse ontdekker Nordenskjöld vir die eerste keer daarin om die hele Noordoos-deurvaart van wes na oos te navigeer en in 1915 voltooi 'n Russiese ontdekkingstog onder leiding van Boris Wilkitski die deurvaart van oos na wes.
Dele van die oseaan is ook verken opsoek na die Noordwesdeurgang om 'n roete tussen die Atlantiese Oseaan en die Stille Oseaan deur die Kanadese Arktiese Argipel te vestig. Tussen die einde van die 15de eeu en die 20ste eeu het verskeie Europese verkenners gepoog om 'n kommersiële seeroete noord en wes om die Amerikaanse kontinente te vind.


In 1539 stuur die Spaanse markies Hernán Cortés die ontdekkingsreisiger Francisco de Ulloa op 'n vaart langs die Neder-Kalifornië-skiereiland om na die deurvaart te soek. Tussen 1576 en 1578 onderneem die Engelse seevaarder Martin Frobisher drie reise na die Kanadese arktiese gebied om die deurgang te vind. Hy word in 1583 deur Sir Humphrey Gilbert (wat Newfoundland vir die Engelse kroon eis) gevolg en daarna deur John Davis wat die Cumberland Sont en Baffin-eiland in 1585 binnevaar. In 1609 seil Henry Hudson op in die rivier wat nou sy naam dra en verken later die Kanadese Arktiese gebied en Hudsonbaai. In die eerste helfte van die 19de eeu word dele van die Noordwesdeurgang afsonderlik deur verskillende ekspedisies verken insluitende die ontdekkingsvaarte van John Ross, William Edward Parry, James Clark Ross en oorland ekspedisies deur John Franklin, George Back, Peter Warren Dease, Thomas Simpson en John Rae. Toe die 1845-tog deur Franklin om kaarte van die laaste 500 km onbekende dele van die deurgang op te stel nie terugkeer nie, lei dit tot 'n aantal reddingsendings en soekgeselskappe wat die Kanadese Arktiese gebied genoegsaam verken om 'n moontlike deurgang te bepaal.
Tydens die soektog na Franklin voltooi 'n span onder leiding van Robert McClure die Noordwesdeurgang van wes na oos tussen 1850 en 1854 – deels per skip en deels per slee. Die deurgang is egter eers in 1906 ter see oorwin toe die Noor Roald Amundsen 'n drie jaar tog in die aangepaste 47-ton haring boot, die Gjøa, daarin slaag om. Die roete was egter nie ekonomies lewensvatbaar nie a.g.v. die lang tyd wat dit geneem het en omdat dit op plekke baie vlak was. Die eerste enkelseisoendeurgang is eers in 1944 onder leiding van Henry Larsen voltooi.
'n Derde motivering vir verkenning van die Arktiese Oseaan was om die Noordpool te bereik. Die Polaris-ekspedisie van 1871 was 'n mislukte Amerikaanse poging onder leiding van Charles Francis Hall. In April 1895 bereik Fridtjof Nansen die 86° 14´ N breedtegraad. Nansen oorkruis dan ook vir die eerste keer in 1896 die Arktiese Oseaan ter see.
In 1897 onderneem die Sweed Salomon August Andrée 'n rampspoedige lugballonvaart na die Noordpool. Andrée en sy twee mede-ontdekkers kom op Kvitøya (Witeiland) in Svalbard om, nadat hulle suid moes trek toe die lugballon neergestort het as gevolg van waterstoflekkasie.
In die lente van 1908 onderneem Frederick Cook 'n reis na die Noordpool saam met slegs twee Inuïet mans, Ahwelah en Etukishook. Cook beweer dat hy die pool op 21 April 1908 bereik het nadat hy noord gereis het van Axel Heiberg-eiland. Die bewering is egter deur Robert Peary in twyfel getrek en Cook kon nie dokumentasie verskaf wat sy besoek aan die pool bo alle twyfel bevestig nie. Daar word algemeen aanvaar dat die eerste suksesvolle tog na die Noordpool op 6 April 1909 deur die Anglo-Amerikaner Robert Edwin Peary, die swart Amerikaner Matthew Henson en vier Inuïetmans genaamd Ootah, Seegloo, Egingway, en Ooqueah onderneem is. Geen van die spanlede het egter opleiding in navigasie gehad nie, wat dus onafhanklik kon bevestig dat die pool wél bereik is en die afstande en snelhede wat Peary beweer hy bereik het, grens aan die ongelooflike.
Op 9 Mei 1926 onderneem Richard Evelyn Byrd en vlieënier Floyd Bennett 'n vlug oor die Noordpool. Hulle beweer dat hulle die pool bereik het, maar kon nie geloofwaardige navigasiedata voorlê wat die bewering sou staaf nie. Die eerste onbetwiste waarneming van die Noordpool is op 12 Mei 1926 deur Roald Amundsen en sy Amerikaanse borg Lincoln Ellsworth met die lugskip Norge bereik. Op 3 Mei 1952 land die Verenigde State se luitenant-kolonel Joseph O. Fletcher en luitenant William P. Benedict met 'n vliegtuig by die geografiese Noordpool. Op 3 Augustus 1958 seil die Verenigde State se USS Nautilus duikboot onder die Noordpool deur en op 17 Maart 1959 kom die USS Skate (SSN-578) by die pool na die oppervlak om die eerste vaartuig te word wat die pooloppervlak bereik.
Die Amerikaanse Ralph Plaisted onderneem die eerste bevestigde oorlandse reis na die Noordpool op 19 April 1968. Die eerste oorlandse kruising oor die oppervlak van die oseaanys word in 1969 deur Wally Herbert gelei, in 'n hondeslee met lugsteun van Alaska tot by Svalbard.
Die Sowjetse kernaangedrewe ysbreker, die Arktika, voltooi op 17 Augustus 1977 die eerste suksesvolle vaart op die oppervlak van die oseaan na die Noordpool. Die gebrek aan kennis van wat noord van die skuiwende ysgrens gelê het, het tot verskeie bespiegelings gelei. In Engeland en ander Europese lande was die mite van 'n "Oop Poolsee" hardnekkig, en John Barrow, die langdurige tweede sekretaris van die Britse Admiraliteit, het tussen 1818 en 1845 verkenning van die gebied aangemoedig om dit te vind. In die Verenigde State het die verkenners Elisha Kane en Isaac Israel Hayes in die 1850's en 1860's albei beweer dat hulle dele van dié ontwykende waterliggaam gesien het, en selfs so laat as 1883 het die gesaghebbende Matthew Fontaine Maury 'n beskrywing van die Oop Poolsee in sy handboek The Physical Geography of the Sea opgeneem. Namate verkenners al nader aan die pool gekom het, het hulle egter berig dat die pooliskap deur die hele jaar dik en volhoubaar is, en teen die begin van die 20ste eeu is die teorie algemeen as weerlê beskou.[20]
Sedert 1937 het Sowjetse en Russiese bemande drywende ysstasies die Arktiese Oseaan omvattend gemonitor. Wetenskaplike nedersettings is op die drywende ys opgerig en duisende kilometer deur die ysvelde vervoer.[21]
Gedurende die Tweede Wêreldoorlog is die Europese deel van die Arktiese Oseaan swaar betwis: die Geallieerdes se verbintenis om die Sowjetunie deur sy noordelike hawens te herbevoorraad, is deur Duitse vloot- en lugmagte teengestaan.[22] In 1954 het Scandinavian Airlines die eerste kommersiële vlugte oor die Arktiese Oseaan, tussen Los Angeles en Kopenhagen, ingestel.[23]
Klimaat
wysig

Die Poolklimaat word gekenmerk deur voortdurende koue en relatief min verskil tussen die jaarlikse maksimum- en minimumtemperatuur. In die winter is die oseaan in donkerte gehul wat gepaard gaan met koue stabiele weerstoestande en oop lug. In die somer is dit permanent dag met vogtige en mistige weer met swak siklone wat reën en sneeu teweegbring.
Die Arktiese Oseaan is 'n groot bron van baie koue lug wat onvermydelik na die ewenaar beweeg en warmer lug in die middel breedtegrade ontmoet en reën en sneeu veroorsaak.
Die winters word deur die poolnag, uiterste koue, gereelde laevlaktemperatuurinversies en stabiele weerstoestande gekenmerk; siklone kom slegs aan die Atlantiese kant algemeen voor. Die somers word deur aanhoudende daglig – die middernagson – gekenmerk, met lugtemperature wat effens bo 0 °C kan styg. Dit is die hele jaar bewolk, met 'n gemiddelde wolkbedekking wat van 60 % in die winter tot meer as 80 % in die somer wissel.[24]
Die temperatuur van die Arktiese Oseaan se oppervlakwater is redelik konstant op ongeveer −1,8 °C, naby die vriespunt van seewater. In teenstelling met varswater neem die digtheid van seewater toe soos dit die vriespunt nader en dit is dus geneig om te sink. Dit is oor die algemeen nodig dat die boonste 100 tot 150 m van die oseaanwater tot by die vriespunt afkoel voordat see-ys kan vorm. In die winter oefen die betreklik warm oseaanwater 'n matigende invloed uit, selfs waar dit met ys bedek is. Dit is een van die redes waarom die Arktiese gebied nie die uiterste temperature van die Antarktiese vasteland ondervind nie.[24]
Die klimaat van die Arktiese gebied het in die loop van die aarde se geskiedenis aansienlik gewissel. Gedurende die Paleoseen-Eoseen se termiese maksimum 55 miljoen jaar gelede, toe die wêreldklimaat met sowat 5 tot 8 °C verwarm het, het die streek 'n gemiddelde jaartemperatuur van 10 tot 20 °C bereik. Die oppervlakwater van die heel noordelike Arktiese Oseaan het – minstens seisoenaal – warm genoeg geword om tropiese lewensvorme te onderhou wat oppervlaktemperature van meer as 22 °C benodig.[25] Die Arktiese gebied verwarm tans minstens twee keer so vinnig as die res van die planeet.[26]
Biologie
wysig
Weens die uitgesproke seisoenaliteit van twee tot ses maande se middernagson en poolnag is die primêre produksie van fotosintetiserende organismes soos ysalge en fitoplankton tot die lente- en somermaande (Maart of April tot September) beperk.[27] Belangrike verbruikers van die primêre produsente in die sentrale Arktiese Oseaan en die aangrensende platseë is soöplankton – veral kopepodes van die genus Calanus – en eufausiede, sowel as ysgebonde fauna soos amfipodes. Hierdie primêre verbruikers vorm 'n belangrike skakel tussen die primêre produsente en hoër trofiese vlakke.[28]
Die samestelling van die hoër trofiese vlakke wissel van streek tot streek – die Atlantiese teenoor die Stille Oseaan-kant – en met die see-ysbedekking. Sekondêre verbruikers in die Barentssee, 'n Arktiese platsee onder Atlantiese invloed, is hoofsaaklik sub-Arktiese spesies soos haring, jong kabeljou en kapelin. In die ysbedekte dele van die sentrale Arktiese Oseaan is die poolkabeljou 'n sentrale roofdier van die primêre verbruikers. Die toppredatore in die Arktiese Oseaan – seesoogdiere soos robbe, walvisse en ysbere – jag op visse.[29]
Die gebied het 'n brose ekostelsel wat besonder blootgestel is aan klimaatsverandering omdat dit vinniger verwarm as die res van die wêreld. Leeumaanhaarkwalle is volop in die Arktiese waters.[27]
Ekonomie
wysigHawens en see- en lugroetes
wysigDie oseaan se belangrikste hawens is die Russiese stede Moermansk en Archangelsk. Die Arktiese Oseaan verteenwoordig die kortste lugroete tussen die Stille Oseaan-kus van Noord-Amerika en Europa. Dit is ook die korste seeverbinding tussen die heel oostelike en westelike Rusland deur die Noordelike Seeroete. Die Arktiese Oseaan bevat 'n groot smoorpunt in die suidelike Tsjoekotkasee, wat noordelike toegang tot die Stille Oseaan via die Bering Seestraat tussen Noord-Amerika en Rusland moontlik maak.
Daar is 'n aantal drywende navorsingstasies in die Arktiese Oseaan wat deur die Verenigde State en Rusland bedryf word.
- Hawens

- Churchill, Manitoba (Kanada)
- Inuvik (Kanada)
- Prudhoe Bay (VSA)
- Utqiaġvik (VSA)
- Pevek (Rusland)
- Tiksi (Rusland)
- Dikson (Rusland)
- Dudinka (Rusland)
- Moermansk (Rusland)
- Archangelsk (Rusland)
- Kirkenes (Noorweë)
- Vardø (Noorweë)
Geografiese koördinate: 90°00′N 0°00′O / 90.000°N 0.000°O
Natuurlike hulpbronne
wysigDie Arktiese Oseaan bevat olie- en gasvelde, spoelertsafsettings, mangaanniere, sand en gruismassas. Die oseaan is ryk aan vislewe en ook seesoogdiere soos robbe en walvisse kom voor.
Die gebied naby die middel van die see is die onderwerp van 'n geskil tussen die Verenigde State, Rusland, Kanada, Noorweë en Denemarke. Die gebied word as belangrik beskou aangesien dit moontlik tot 'n kwart van die wêreld se olie- en gashulpbronne bevat.[30]
Politieke geskille
wysig

Die eerste Kanadese soldate is reeds in 1898 in die Arktiese gebied ontplooi en het destyds as vrywilligers wet en orde gedurende die plaaslike goudstormloop gehandhaaf. 'n Moderne militêre basis is egter eers in 1970 in Yellowknife in die Noordwes-Gebiede opgerig.
Kanada maak aanspraak op die Arktiese Argipel, maar veral die Verenigde State het die soewereiniteit van sy noordelike buurland ná die ontdekking van olievelde naby die Prudhoebaai van Alaska in 1968 betwis. Vanweë die hoë koste wat aan lugvervoer vir die benodigde boorgereedskap of die bou van pypleidings vir die vervoer van ru-olie verbonde sou wees, het die Amerikaanse oliemaatskappy Humble Oil Company uit Houston (Texas) in die somer van 1969 probeer om met die tenkskip S.S. Manhattan, wat tot 'n ysbreker omgebou is, deur die Noordwesdeurvaart te navigeer. Weens die onbruikbaarheid van kompasse digby die magnetiese noordpool het die Manhattan met behulp van satelliete navigeer.
Met hul navigasie deur die Noordwesdeurvaart het die Amerikaners Kanada se aanspraak op die soewereiniteit oor die seestraat betwis en dit as internasionale waters beskou. Hierdeur is 'n presedent vir die gebruik van die seeroete deur ander lande se skepe en duikbote, veral Sowjet-skepe, geskep, wat destyds ook 'n groter bedreiging vir Noord-Amerika ingehou het as die Sowjetunie se interkontinentale missiele. Twaalf Kanadese parlementslede het na Resolute op die Arktiese Cornwallis-eiland gevlieg om in die lig van die Manhattan-insident Kanada se aanspraak op die gebied en seeroete te bevestig.
In die somer van 2007 het 'n Russiese navorser met sy duikboot die oseaanbodem bereik en hier op 'n diepte van 4 261 meter die Russiese vlag gehys – moontlik hoop ook lande soos die Russiese Federasie dat hulle 'n rol by die ontginning van die ryk Arktiese ruolie- en aardgasvelde sal kan speel wat volgens beramings sowat 'n kwart van die wêreldwye reserwes behels. Ook Groenland, 'n selfregerende Deense gebied, maak amptelik aanspraak op sowat 1,2 miljoen vierkante kilometer van die Noordpoolgebied.
Die Kanadese eerste minister, Stephen Harper, het kort na hierdie gebeure in die Noord-Kanadese dorp Iqaluit aangekondig dat Kanada die eerste diepseehawe, 'n nuwe militêre basis in die gebied en 'n opleidingsentrum vir wintergevegte aan die mees noordelike punt van Baffin-eiland, sal bou. Vir die diepseehawe in Nanisivik sal die plaaslike lood- en sinkmyne se hawe uitgebou en dieper gemaak word, sodat Kanada se nuwe Arktiese patrollieskepe hier kan aandoen. Naas die bou van die opleidingsentrum in Resolute sal ook Inuïet-patrollies Kanada se aanspraak op die gebied bevestig.
As gevolg van aardverwarming word daar verwag dat die Noordwesdeurvaart in 2050 as 'n seestraat tussen die Stille en Atlantiese Oseane dwarsdeur die jaar vir skepe toeganklik sal wees.
Omgewing
wysigHoewel daar gemeen word dat die Arktiese gebied ongeskonde en skoon is, is besoedeling uit aanliggende gebiede soos die hoogs-geïndustrialiseerde Europa 'n toenemende probleem.[31] Aanvanklik is gemeen dat Arktiese besoedeling grootliks as gevolg van chemiese lekkasies plaasvind en dat dit klein en plaaslik is. Die konsensus is egter nou dat besoedeling van oor die wêreld deur riviere, seestrome en atmosferiese sirkulasie noord gedryf word. Die verminderde sonlig, uitgebreide ysbedekking en lae temperatuur beteken dat smetstowwe baie stadiger afbreek as in warmer klimate.[31]
In die 1950's het vlieëniers misbande begin waarneem wat nou as die "Arktiese mis" of "Arktiese waas" bekend staan. Teen 1972 is teorieë voorgestel wat die oorsprong van die waas terugspoor na besoedeling wat ver van die Arktiese gebied veroorsaak word. Die besoedelde lug is nou 'n bekende kenmerk van die laat-winter in die Arktiese gebied. Dit blyk dat die lug al hoe meer besoedel word soos besoedeling van fossielbrandstof, versmelting en ander nywerheidsaktiwiteit in die digte koue lug in die donker Arktiese winter opbou. Voorvalle van bruin of swart sneeu is teruggespoor na woestyne en landbougebiede in Asië.
Smelting van die arktiese ysbedekking word nou op sowat 9% per dekade gereken.[32] Teen die tempo sal standhoudende ys oor 'n paar dekades reeds in die 21ste eeu verdwyn. 'n Vermindering in die oppervlak wat deur seeys bedek word sal 'n impak hê op die planeet se weerkaatsingsvermoë of albedo, wat moontlik 'n invloed op aardverwarming sou hê. Die ligte kleur van die Arktiese Oseaan-ys het 'n hoë weerkaatsingsvermoë wat help om sonligenergie van die aarde af weg te weerkaats en dus as 'n natuurlike lugversorger vir die aarde optree. 'n Vermindering in ys kan dus lei tot 'n versnelling in aardverwarming.[33]
Die grootste vermindering in seeys het tot dusver in die Barentssee, Karasee en Oos-Siberiese seë noord van Rusland plaasgevind, sowel as in die See van Ochotsk noordwes van Japan in die Stille Oseaan. Seeys het terselfdertyd in die Davis-seestraat en die Labrador-see tussen Kanada en Groenland merkbaar toegeneem. Die verwarming van meer as 0,5 grade Celsius per dekade oor die afgelope dertig jaar oor die landmassas in Siberië, Alaska en Westelike Kanada, gekoppel met 'n swakker verkoelingsneiging in westelike Groenland en die Labrador-see, is oënskynlik een van die twee hooffaktore in die verandering in seeys verspreiding. Die ander hooffaktor is 'n groot verandering in die Arktiese lugsirkulasiepatrone. Gemiddelde seevlak lugdruk het oor die sentrale Arktiese Oseaan begin val, met gepaardgaande vermeerdering in storms. As gevolg van die veranderings kan betreklik warm lente- en somerlugmassas van die Arktiese kus diep in die Arktiese Oseaan indring wat lei tot smelting van die ys.[33]
Wetenskaplikes is tans bekommerd dat die stygende temperatuur in die Arktiese gebied kan veroorsaak dat groot hoeveelhede vars Arktiese Oseaan smeltwater in die Noordelike Atlantiese Oseaan kan invloei wat moontlik die wêreldwye seestroompatrone kan versteur, wat aansienlike veranderinge in die Aarde se klimaat tot gevolg kan hê. Die Arktiese gebied verwarm minstens twee keer so vinnig as die res van die planeet.[26]
Ysbere is afhanklik van seeys vir hulle oorlewing en word slegs in en om die Arktiese Oseaan aangetref. Ysbere verloor gewig soos hulle jagvelde krimp as gevolg van die smelt van seeys en dit moeiliker word om robbe te jag. Die ysbeerbevolking van die westelike Hudsonbaai het van sowat 1 194 diere in 1987 tot 935 in 2004 gedaal, 'n afname van 22 %.[34][35] Ander bedreigings wat ysbere moet trotseer sluit in besoedeling, wettige en onwettige jag en versteurings as gevolg van nywerheidsaktiwiteite.[36] Blywende organiese besmetting deur stowwe soos PCB's en DDT wat in koue ekostelsels in hoë konsentrasies vergader lei tot verlaagde geboortesyfers onder ysbere wat as 'n indikatorspesie in die Arktiese gebied gesien word as gevolg van die spesie se posisie bo-aan die voedselketting.[37] Daar word gevrees dat ysbere in die 21ste eeu kan uitsterf en dat wetgewing benodig word om die diere te beskerm.[38]
Die ontginning van gas en olie in die Arktiese Oseaan bring 'n nuwe bedreiging tot die ekologie in die gebied. Bo en behalwe vir die impak wat verdere gebruik van fossielbrandstof op aardverwarming het, verteenwoordig die projekte groot gevare vir die plaaslike omgewing vir die delikate en ongerepte Arktiese omgewing. Tevore het die ongunstige weersomstandighede in die Arktiese Oseaan en die geweldig krag van die bewegende ysbedekking verhoed dat olie- en gasbronne daar ontgin word en veroorsaak dit dat ontdekking en veral produksie uiters gevaarlik sal wees. Een van die eerste pogings om Arktiese olie te ontgin is deur BP begin met die oprig van die Northstar-projek. Die projek word omtrent ses myl noord van Punt Storkersen in die Beaufort-see wes van Prudhoe-baai opgerig deur 'n bestaande gruiseiland, Seal-eiland, te vergroot. Die oliepyplyn wat warm olie van die oliemyn sal wegvoer word in onstabiele ysgrond 2 m tot 3 m onder die seebodem begrawe. Daar word gevrees dat soliede en los stukke ys wat die gebied vir tot tien maande van die jaar bedek 'n hoë risiko van oliestortings verteenwoordig en sal opruimingsoperasies bemoeilik of onmoontlik maak. Die Amerikaanse regering raam dat die waarskynlikheid van 'n groot oliestorting so hoog soos een in vier is.[39]
Bedreigde marinespesies sluit die walrusse en walvisse in. Die reeds bedreigde walvisbevolking loop verdere gevaar van oliestortings. In die verband is daar veral kommer oor Shell se planne vir 'n olie en gas projek in die verre ooste van Rusland. Dit sou baie moeilik wees om op oliestortings in die gebied te reageer waar golwe in die lente en winter gereeld vyf keer hoër is as vlakke waaronder huidige opruimings- en herwinningsmetodes gebruik kan word. Daar is ook 'n beduidende moontlikheid dat onherwinde olie die voedselvelde van die laaste bekende bevolking van westelike gryswalvis kan besoedel.[40]
Aardverwarming bedreig ook die Arktiese voëllewe. Klimaatmodelle voorspel probleme met beide habitatverlies en belemmering van broeivermoë. Soos die klimaat verwarm sal die boomgrens verder noord beweeg en woude die toendra vervang waar miljoene watervoëls broei.[41]
Die delikate ekostelsel van die Arktiese Oseaan verander stadig en herstel stadig wanneer dit versteur of beskadig word. Die poolysmassa is besig om dunner te word as gevolg van aardverwarming. Daar is ook 'n seisoenale gat in die osoonlaag bo die Noordpool.
Klatraatafbreking
wysigSee-ys en die koue toestande wat dit onderhou, stabiliseer metaanafsettings op en naby die kuslyn en verhoed dat die klatrate afbreek en metaan in die atmosfeer vrystel. Die smelt van dié ys kan groot hoeveelhede metaan – 'n kragtige kweekhuisgas – in die atmosfeer vrystel, wat verdere verwarming in 'n sterk positiewe terugvoerkringloop veroorsaak.[42][43]
Ander bekommernisse
wysigAnder omgewingsbekommernisse het met die radioaktiewe besmetting van die Arktiese Oseaan te doen, byvoorbeeld uit Russiese stortingsterreine vir radioaktiewe afval in die Karasee, Koue Oorlog-tydperk se kernwapenproefterreine soos Nowaja Zemlja, die besmetstowwe van Camp Century in Groenland, en radioaktiewe besmetting uit die kernongeluk by Fukushima Daiichi.[44][45]
Namate die see-ys se omvang verminder en die seevlak styg, neem die uitwerking van storms op oop water toe, en so ook die moontlike skade wat soutwater aan plantegroei op die kus – byvoorbeeld in die Mackenziedelta – kan aanrig soos stormvloede sterker word.[26] Aardverwarming het ook die ontmoetings tussen ysbere en mense laat toeneem: van Desember 2018 tot Februarie 2019 het 'n massa-instroming van ysbere in die Nowaja Zemlja-argipel die plaaslike owerhede laat besluit om 'n noodtoestand af te kondig, nadat dosyne ysbere huise, openbare geboue en bewoonde gebiede binnegegaan het.[46]
Op 16 Julie 2015 het vyf lande – die Verenigde State, Rusland, Kanada, Noorweë en Denemarke namens Groenland – 'n verklaring onderteken waarin hulle onderneem het om hul vissersvaartuie buite 'n sone van 2,8 miljoen km² in die sentrale Arktiese Oseaan naby die Noordpool te hou. Die ooreenkoms vra dat dié lande hulle van visvang daar weerhou totdat daar beter wetenskaplike kennis van die see se hulpbronne is en 'n regulerende stelsel in plek is om hulle te beskerm.[47]
Verwysings
wysig- ↑ (en) Michael Pidwirny (2006). "Introduction to the Oceans". www.physicalgeography.net. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 13 Junie 2020. Besoek op 7 Desember 2006.
- ↑ (en) Matthias Tomczak, J. Stuart Godfrey. Regional Oceanography: an Introduction. 2003. Delhi: Daya Publishing House. Tweede Uitgawe. ISBN 81-7035-306-8.
- ↑ (en) Some Thoughts on the Freezing and Melting of Sea Ice and Their Effects on the Ocean K. Aagaard en R. A. Woodgate, Polar Science Center, Applied Physics Laboratory University of Washington, Januarie 2001. Besoek op 7 Desember 2006.
- ↑ (en) "Five Deeps Expedition is complete after historic dive to the bottom of the Arctic Ocean" (PDF). 2019. Besoek op 24 Augustus 2026.
- 1 2 (en) The Mariana Trench The Mariana Trench – Oceanography, besoek op 12 Mei 2006
- ↑ (en) International Hydrographic Organization (1953). Limits of Oceans and Seas (PDF) (3de uitg.). Monte Carlo: IHO.
- 1 2 3 (en) Piskarev, Alexey; Poselov, Victor, reds. (2019). Geologic Structures of the Arctic Basin. Springer. ISBN 978-3-319-77742-9.
- 1 2 3 (en) Whaley, Jane (2007). "A Brief Geological History of the Arctic Ocean" (PDF). GEO ExPro. Geargiveer vanaf die oorspronklike (PDF) op 3 Oktober 2022. Besoek op 24 Augustus 2026.
- 1 2 3 4 5 (en) Tomczak, Matthias; Godfrey, J. Stuart (2003). Regional Oceanography: an Introduction (2de uitg.). Delhi: Daya Publishing House. ISBN 81-7035-306-8.
- ↑ (en) Pickard, George L.; Emery, William J. (1982). Descriptive Physical Oceanography. Pergamon. ISBN 978-1-4832-7877-3.
- ↑ (en) "Arctic Ocean Circulation". Woods Hole Oceanographic Institution. Besoek op 24 Augustus 2026.
- ↑ (en) Polyakov, I.; Rippeth, T.; Fer, I. (2020). "Weakening of the cold halocline layer exposes sea ice to oceanic heat in the eastern Arctic Ocean". Journal of Climate. 33 (18): 8107–8123. doi:10.1175/JCLI-D-19-0976.1.
- ↑ (en) "Arctic Sea Ice Minimum". NASA Global Climate Change. Besoek op 24 Augustus 2026.
- ↑ (en) Brigham, L.W. (1998). "From Arktika to the next millennium". Naval History. 12 (4).
- ↑ (en) Goebel T, Waters MR, O'Rourke DH (2008). "The Late Pleistocene Dispersal of Modern Humans in the Americas". Science. 319 (5869): 1497–1502. doi:10.1126/science.1153569. PMID 18339930.
- ↑ (en) "The Prehistory of Greenland". Nasionale Museum van Denemarke. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 14 Februarie 2010. Besoek op 24 Augustus 2026.
{{cite web}}: CS1 maint: bot: original URL status unknown (link) - ↑ (en) Park, Robert W. "Thule Tradition". Arctic Archaeology. Universiteit van Waterloo. Besoek op 24 Augustus 2026.
- ↑ (en) Rennison, Nick (2014). "Chapter One: The Arctic Pre-1900". A Short History of Polar Exploration. Oldcastle Books. pp. 13–23. ISBN 978-1-84344-090-1.
- ↑ (en) van Netten, Djoeke (2025). "Known unknowns in the North. Uncertain maps of the Arctic in early modern times". International Journal of Cartography. 11 (4): 489–508. doi:10.1080/23729333.2025.2478270.
- ↑ (en) Luedtke, Brandon (Maart 2015). "An ice-free Arctic Ocean: history, science, and scepticism". Polar Record. 51 (2): 130–139. doi:10.1017/S0032247413000636.
- ↑ (en) "North Pole drifting stations (1930s–1980s)". Woods Hole Oceanographic Institution. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 13 November 2017. Besoek op 24 Augustus 2026.
{{cite web}}: CS1 maint: bot: original URL status unknown (link) - ↑ (en) Kenyon, David (2024). Arctic convoys: Bletchley Park and the war for the seas. Yale University Press. pp. 3–10. ISBN 978-0-300-27935-1.
- ↑ (en) "The Cold War and Beyond". San Diego Air & Space Museum. Besoek op 24 Augustus 2026.
- 1 2 (en) Serreze, Mark C.; Barry, Roger G. (2005). The Arctic Climate System. Cambridge University Press. ISBN 978-0-521-81418-8.
- ↑ (en) Sluijs A, Schouten S, Pagani M (2006). "Subtropical Arctic Ocean temperatures during the Palaeocene/Eocene thermal maximum". Nature. 441 (7093): 610–613. doi:10.1038/nature04668. PMID 16752441.
- 1 2 3 (en) Pierre-Louis, Kendra (10 Desember 2019). "Climate Change Is Ravaging the Arctic, Report Finds". The New York Times. Besoek op 24 Augustus 2026.
- 1 2 (en) Berge J, Renaud PE (2015). "In the dark: A review of ecosystem processes during the Arctic polar night". Progress in Oceanography. 139: 258–271. doi:10.1016/j.pocean.2015.08.005.
- ↑ (en) Kosobokova KN, Hopcroft RR (2011). "Patterns of zooplankton diversity through the depths of the Arctic's central basins". Marine Biodiversity. 41 (1): 29–50. doi:10.1007/s12526-010-0057-9.
- ↑ (en) Dalpadado P, Ingvaldsen RB (2012). "Climate effects on Barents Sea ecosystem dynamics". ICES Journal of Marine Science. 69 (7): 1303–1316. doi:10.1093/icesjms/fss063.
- ↑ (en) The Arctic's New Gold Rush – BBC
- 1 2 (en) Scholastic Arctic Pollution. Besoek op 13 Mei 2006
- ↑ (en) NASA Geargiveer 7 April 2006 op Wayback Machine The Arctic Perennial Sea Ice Could Be Gone by End of the Century. Besoek op 13 Mei 2006
- 1 2 (en) Greenpeace Climate Change and Arctic Sea Ice, besoek op 13 Mei 2006
- ↑ (en) "Western Hudson Bay Polar Bears". Polar Bears International. Besoek op 24 Augustus 2026.
- ↑ (en) PlanetArk Greenpeace Arctic Mission to Spotlight Polar Bears. Besoek op 13 Mei 2006
- ↑ (en) Polar Bears International Polar Bear FAQ. Besoek op 13 Mei 2006
- ↑ (en) Greenpeace The Threat of Climate Change to Arctic Wildlife, besoek op 13 Mei 2006
- ↑ (en) Center for Biological Diversity Geargiveer 10 Augustus 2006 op Wayback Machine Endangered Species Act Listing Process for Polar Bears Underway. Besoek op 13 Mei 2006
- ↑ (en) Greenpeace Northstar Campaign Summary, besoek op 13 Mei 2006
- ↑ (en) WWF Shell poses unacceptable oil spill threat. Besoek op 13 Mei 2006
- ↑ (en) BBC Climate change 'threatens Arctic birds', besoek op 13 Mei 2006
- ↑ (en) Connor, Steve (23 September 2008). "Exclusive: The methane time bomb". The Independent. Besoek op 24 Augustus 2026.
- ↑ (en) Mrasek, Volker (17 April 2008). "A Storehouse of Greenhouse Gases Is Opening in Siberia". Spiegel Online. Besoek op 24 Augustus 2026.
- ↑ (en) "400 million cubic meters of radioactive waste threaten the Arctic area". Bellona. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 16 Oktober 2007. Besoek op 24 Augustus 2026.
- ↑ (en) "A Top-Secret US Military Base Will Melt Out of the Greenland Ice Sheet". VICE. 9 Maart 2019. Besoek op 24 Augustus 2026.
- ↑ (en) Stambaugh, Alex (12 Februarie 2019). "Polar bear invasion: Parents scared to send children to school in remote Russian archipelago". CNN. Besoek op 24 Augustus 2026.
- ↑ (en) "Arctic deal bans North Pole fishing". BBC News. 16 Julie 2015. Besoek op 24 Augustus 2026.
Bronnelys
wysig- (en) Neatby, Leslie H., Discovery in Russian and Siberian Waters 1973 ISBN 0-8214-0124-6
- (en) Ray, L., and Stonehouse, B., eds., The Arctic Ocean 1982 ISBN 0-333-31017-9
- (en) Thorén, Ragnar V. A., Picture Atlas of the Arctic 1969 ISBN 0-8214-0124-6
- (en) Teks in die publieke domein deur die VS se Naval Oceanographer: oceanographer.navy.mil Geargiveer 9 April 2002 op Wayback Machine
- (en) Matthias Tomczak and J. Stuart Godfrey. 2003. Regional Oceanography: an Introduction. ISBN 81-7035-306-8 (sien die webwerf Geargiveer 30 Junie 2007 op Wayback Machine)
- Politieke geskille
- (en) The S.S. Manhattan & the Northwest Passage
- (en) Alaska Science Forum, 19 Desember 1983: Voyage of the Manhattan Geargiveer 13 Februarie 2005 op Wayback Machine
- (en) Agence France Press (AFP), 11 Augustus 2007
- (de) Hofmeister, Burkhard: Fischer Länderkunde: Nordamerika. Frankfurt am Main: Fischer Taschenbuch Verlag 1980, bl. 280-281
- (en) Keating, Bern Sennett, Tomas: Through the Northwest Passage for Oil. In: National Geographic Magazine, Volume 137, Nommer 3, Maart 1970
Eksterne skakels
wysig| Wikimedia Commons bevat media in verband met Arktiese Oseaan. |
- (en) Toerisme-inligting oor Eilande van die Arktiese Oseaan op Wikivoyage
- (en) "Arctic Ocean". Encyclopædia Britannica. Besoek op 10 Junie 2024.
- (en) "Arctic Ocean and Canada". The Canadian Encyclopedia. Besoek op 10 Junie 2024.
| Gebiede van die Wêreld | |||||||||||||||||||||||||
|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|
|
| ||||||||||||||||||||||||
| Sien ook Kontinente van die wêreld | |||||||||||||||||||||||||